SHOWING ARTICLE 174 OF 706

Laat goeie foto's jou huis verkoop

Category Property News

Eerste indrukke tel baie beslis - veral wanneer dit by die verkoop van 'n residensiële eiendom kom.

n Goeie eerste indruk is ook goud werd in 'n kopersmark soos nou, waar daar eiendomme te kies en te keur op die mark is en kopers hul tyd kan neem om die regte huis uit te kies. Dis juis daarom dat eiendomkenners meen dit belangrik is dat verkopers en agente seker maak die foto's waarmee eiendomme op watter platform ook al bemark word, goeie foto's is.

"Luidens internasionale navorsing begin sowat 85% van alle voornemende huiskopers deesdae hul soektog na 'n nuwe eiendom aanlyn," verduidelik Jill Lloyd, 'n veteraanagent en gebiedspesialis in Claremont en Clarepark vir Lew Geffen Sotheby's International Realty.

Volgens haar bewys hierdie studies verder dat eiendomme wat met regtig goeie foto's bemark word, sowat 32% vinniger en teen 'n hoër verkoopsprys per vierkantmeter van die hand gesit word. 

Vanweë die Covid-19-pandemie en die gevolglike inperkingsregulasies en maatreëls wat geld, het dit nou nóg belangriker geword dat huise mooi ingerig en daar goeie foto's daarvan geneem word vir die bemarkingsproses, aldus Lloyd.

"As jy as verkoper wil hê dat jou huis tussen die res van die kompetisie moet uitstaan en dadelik voornemende kopers se aandag moet trek, moet jy self aandag aan die fynere besonderhede gee. Volgens Lloyd is daar heelwat moets en moenies wanneer jy jou huis gereed moet kry om dit te bemark. Hier is 'n paar van haar wenke om 'n huis fotogereed te kry:

Gooi weg! Die eerste stap is om jou huis ordentlik op te ruim en van al die onnodige goed ontslae te raak. "Begin sommer in jou solder en werk jouself ondertoe. Só raak jy ontslae van alles in jou huis wat jy nie meer nodig het nie, terwyl jy weer stoorplek skep vir goed wat jy wil wegpak, maar nie noodwendig wil weggooi nie.

Volgens Lloyd is dit ook belangrik om nie van die motorhuis te vergeet nie. "Sorteer al die speelgoed en fietse saam met jou kinders uit, en sit dit wat hulle nie meer gebruik nie eenkant of skenk dit aan 'n plaaslike kinderhuis." 

Nie té onpersoonlik. Probeer om sover moontlik jou persoonlike items in jou huis te verwyder. "Pak jou familiefoto's, kinders se kunstrofeë en ander persoonlike goed weg in die nuwe stoorplek wat jy geskep het.

"Jou huis moet ook nie lyk asof niemand al daar gewoon het of té onpersoonlik nie - maar dit is belangrik vir voornemende kopers om hulself in die ruimte te kan voorstel," verduidelik Lloyd. Wat die tuin en buite-area betref, moet verkopers seker dat die tuin mooi en netjies is. Pak ook liefs die chloor vir die swembad weg voordat die foto's geneem word, sê Lloyd.

Lig hoogtepunte uit. Verkopers wil natuurlik die hoofkenmerke en aantreklikhede van hul eiendomme uitlig. Lloyd meen mens moet net versigtig wees om nie net aan te neem dat sekere dele van jou huis die gunsteling ruimtes is nie. "Probeer eerder objektief bly en kyk na jou huis vanuit 'n vreemdeling se perspektief," sê sy.

"As jou huis se leefstylkenmerke die groot trekpleister is, bemark jou eiendom dan as 'n verwelkomende ruimte waar kopers hulself kan sien woon. Byvoorbeeld: Rig jou eetkamer met 'n mooi gedekte tafel in, soos wanneer daar 'n ete is. Só lig jy die huis se potensiaal vir onthaal uit. Jy kan ook jou buite-areas laat uitstaan met kleurvolle kussings op die tuinmeubels. Komplimenteer dit dan met 'n bypassende skemerkelkie wat op die sytafel staan," sê Lloyd.

En daar was lig! Moenie vergeet watter groot rol goeie beligting speel as jy foto's neem nie. "As dit enigsins moontlik is, probeer om die foto's te laat neem slegs op 'n helder, sonnige dag wanneer die natuurlike lig die beste is. Die regte lig kan 'n eiendom groter en meer aanloklik laat lyk. 'n Helder, goedbeligte foto plaas ook die klem op gehalte," verduidelik Lloyd.

"Indien nodig, los die ligte binne jou huis aan vir die foto's al is dit helder oordag - veral as jou huis klein kamers met donker hoekies het."

Krap jy kop oor wanneer dit die beste tyd is om foto's buite om jou huis te neem? Dit sal afhang in watter rigting jou huis gebou is, aldus Lloyd. "Jy wil liefs die son agter jou hê as jy foto's neem, sodat daar minder skaduwees is.

Programme wat help. Programme soos Photoshop is wonderlik vir as jy die ligbalans in jou foto's wil aanpas, of net van onnodige skaduwees ontslae wil raak. Wees egter net versigtig om foto's van jou huis té veel aan te pas, waarsku Lloyd.

"As jy té veel aan die foto's werk kan jy maklik die verkeerde indruk van jou eiendom skep. Dit op sy beurt kan veroorsaak dat voornemende kopers teleurgesteld is wanneer hulle die eiendom besoek. Hulle kan ook begin dink dat jy as verkoper dalk iets het om weg te steek. Uiteindelik gaan dit net soveel langer neem om jou huis te verkoop."

Laaste sê. Volgens Lloyd is dit belangrik om te onthou dat die fundamentele doel van hierdie foto's is om die potensiaal van jou eiendom aan voornemende kopers ten toon te stel - mense wat hulself en hul gesinne in die ruimte moet kan sien leef en herinneringe maak.

Author: Lew Geffen Sotheby's International Realty

Submitted 24 Aug 20 / Views 528